Sonheuwel Karavaanpark - NWO
|
Hierdie bediening fokus op die opheffing van die meestal wit arm gemeenskap van die Sonheuwel Karavaanpark in die Bon Accord area buite Pretoria. By die Sonheuwel gemeenskap is daar sowat 120-140 siele. Mnr. Thinus du Plessis ("Oom Doep", eienaar van Sonheuwel) het die behoefte aan bekostigbare behuising vir hierdie mense besef en sowat 66 (meestal) sinkhuisies opgerig wat hy verhuur teen tussen R1300 en R1800 per maand. Sonheuwel is dus 'n lae-kostebehuising gemeenskap en nie 'n plakkerskamp nie. |
Die situasie van "Arm Blankes in Suid-Afrika" :
Feit: Daar is sowat 80 plakkerskampe van arm Blankes in Gauteng alleen, sowat 1 000 000 mense in getal
• White Refugees get little sympathy
• Solidarity - Gauteng aiming to eradicate squatter camps by 2014
Huis Shammah vir gestremdes en getraumatiseerde mense
- Nie-winsgewende organisasie
Dit is geleë op 2 plotte naby Rayton, Gauteng en word deur St. Alban's College ondersteun.
SONHEUWEL - 2012
AGS LOFDAL SE CHRISTUSFEES
Op Saterdag 8 Desember is die Sonheuwel inwoners weereens by die AGS Lofdal se kerkterrein bederf en "voortreflik onthaal".
Kersvader gebring met koets en perde et die gemerkte pakkies vir elke kind en volwassene uitgedeel.
Almal was in ligte luim, mooi aangetrek en versorg en het by stylvolle gedekte tafels aangesit.
'n Hele paar items van danse en sang het die aand luisterryk gemaak, en teen die einde het hulle spontaan saamgesing (sien video).
'n Seekoskelkie voorgereg, heerlike bord kos en nagereg (jellie, ingelegde perskes en roomys) is aan die gaste bedien, heerlike ontspan en kuier het daaruit gevloei.
Dankie aan die Lofdallers vir die liefde wat aan die Sonheuwel mense bewys is!
Ander uitreike en funksies in 2012
• 25 November: DEO GRACIA uitstappie vir 20 gesinne.
• Vrydag 30 November : Doxa Deo Brooklyn-Kampus se Kersfees uitreik.
• Saterdag 1 Desember : Doulos se jaarlikse kersfunksie aan.
• Sondag 23 Desember : Sonheuwel kinders se kinderopvoering by Sonheuwel, onder leiding van tannie Magda.
AGS Lofdal het op 28 Julie 2012 weer ’n Potjiekos en speletjiesdag by Sonheuwel aangebied. Daar is heerlik vlugbal
gespeel, die kinders het die springkasteel terdeë geniet en daar is gesellig saamgekuier.
Pastoor Ansie se kort boodskap en skrifgedeelte was Johannes 3:16-17 : Soms gaan ons nie na Jesus toe gaan nie,
ons is hoogmoedig of hardkoppig, maar Hy wíl ons help, vertroos en genees.
Om 12:30 nm is heerlike potjiekos opgeskep. Sonheuwel se vrouens het vlytig gehelp om egte tradisionele souskluitjies te kook wat met
tuisgemaakte vla bedien is vir nagereg.
Daar is tans 'n noue samewerking tussen die AGS Lofdal Gezina kerk en die HeavenYawdah Groep. 'n Maandelikse vergadering word tesame met die bestuur van Sonheuwel gehou.
|
Daar was 'n uitstappie na Pretoria se Dieretuin deur AGS Lofdal vir meesal Sonheuwel kinders op 28 Januarie 2012. |
Die AGS Lofdal se geestelike bedieninge bestaan uit:
• Huisbesoeke deur sowat ses mense van Lofdal wat elke Woensdag 'n paar huisies besoek. Hierdie aksie neem die kerk na die mense toe en werp beslis vrugte af
omdat daarin geslaag word om verhoudings te bou. Lofdal mense gesels met hulle, bedien hulle en bid vir hulle.
|
•Eredienste word elke Sondagoggend gehou deur Pastoor Ansie du Preez. Vir lank is kerk onder die afdak gehou, maar op Moedersdag 13 Mei 2012 is die nuwe kerkgeboutjie (voorheen gesondsheidskliniek), ingewy, en dit blyk alreeds te klein te wees. Twee paartjies is op 15 Februarie 2012 in die huwelik bevestig, in April is twee kinders ingeseën, en twee volwassenes is gedoop by die AGS Lofdal se kerk in Gezina. |
• Die kinderkerk/Sondagskool, onder leiding van Ansie Rautenbach, word elke Sondagoggend tydens die kerkdiens gehou.
Dit word deur ongeveer twintig kinders bygewoon. Hulle leer al meer liedjies, bid self al, soms "dankie vir die huise
waarin ons woon". Op Moedersdag en Vadersdag onderskeidelik, het die kinders vir die ouers in die kerk ietsie gaan oorhandig.
• Vroueaksie
Sedert April 2012 is daar 'n Vroueaksie vir die Sonheuwel dames, onder leiding van Pastoor Ansie du Preez.
Dit vind elke Woensdag oggend tussen tienuur en twaalfuur plaas en word deur sowat vyftien tot twintig vrouens bygewoon.
Dit het begin met onderwerpe wat van toepassing is op die vrou, deurgaans met 'n geestelike boodskap ingeweef.
'n Paar hiervan is:
• die deugsame vrou |
• gesondheid |
Daar was ook al 'n gasspreker, 'n voormalige welsynswerker met waardevolle inligting oor welsynsaspekte.
Die Vroueaksie het nou al goeie momentum en het ontwikkel na werklike Bybelstudie. Die vroue het ook die geleentheid om persoonlike getuienis te lewer en mekaar te ondersteun en te bedien.
Die vroue se terugvoer: baie keer wanneer daar vir hul gebid word, ervaar hulle
die Here se rustigheid en aanraking. Vroueaksie sluit heerlike "fellowship" rondom 'n koppie tee en stukkie koek in.
Januarie 2013: Ansie voel dat die geestelike bediening by Sonheuwel nie noodwendig in getalle groei nie, maar beslis verdiep.
Dit is veral Sondae by die eredienste opmerklik hoe die lofprysing en aanbidding verdiep het.
Die huisbesoeke het ook tot gevolg dat mense nou makliker oopmaak en daar tot die wortel van probleme kan kom.
Kontak Pastoor Ansie by AGS Lofdal kerkkantoor by 012 3312560 of ansiedupreez@hotmail.com.
• Manneaksie
Naas Rautenbach, Herman Potgieter en Hennie Smit het daarmee afgeskop op Woensdag 18 Julie 2012. Die aanbiedinge is gebaseer op Bybelse lering, bv
die Woord word weekliks meer verstaanbaar gemaak deur ook na kommentaar uit die verklarende Bybel te kyk.
Die Sonheuwel mans doen getrou hul weeklikse stukkie Woord om te bestudeer voor elke byeenkoms.
Dit vind plaas op Woensdag aande en word goed bygewoon.
Die manne vra dan ook dat die byeenkomste interaktief gehou moet word.
•Jeugaksie
Die Lofdallers het op 19 Mei 2012 ’n vlugbaldag ("volleybal") in Sonheuwel aangebied. Dit was as 'n jeugaktiwiteit geoormerk, maar is uiteindelik deur almal baie geniet.
Ons bid nog steeds vir iemand om ’n ordentlike Jeugaksie in Sonheuwel te kom bedryf.
Bybelstudie deur "Door of Hope Ministries"
Die weeklikse Bybelstudie op Donderdae word deur Ewald Joubert van die "Door of Hope Ministries" aangebied en word goed bygewoon.
Kontak gerus Ewald by ☎ 0828218216 of epos hom by dohsa@mweb.co.za.
Lees gerus oor 'n alledaagse geval, in hul publikasie, Maart 2011, op bladsy 2: Lientjie se verhaal.pdf
HeavenYawdah Groep se Jeugkampe
In die afgelope twee jaar het die fokus by Sonheuwel Karavaanpark ‘n duidelike skuif gemaak van die volwassenes na die kinders. Ons het tot die besef gekom
dat ‘n groter impak gemaak kon word in die opkomende generasie as in die geslag wat alreeds so gerat is in sy negatiewe gewoontes.
Daar word beplan om van die seuns saam met Echo Jeugbediening op hul jaarlikse Matlala Uitreik te neem.
Johan Bloem, bestuurder van HeavenYawdah groep, is 'n bekende en geliefde vaderfiguur by die jeug- en avontuurkampe.
Lees alles oor die visie, missie en strategie van hierdie jeugbediening by Jeugkampe elders op die webwerf.
Die Vlytige Vroue aksie
Ons ontvang reeds geruime tyd groot hoeveelhede skenkings groente van 'n groente-navorsingsplaas via Philidelphia bedieninge.
Die dames van Sonheuwel word nou geleer om hierdie groente met voorafgetoetste resepte in te lê. In 2012 het hulle groot volumes tamaties verwerk tot heerlike tamatieblatjang, en die
lekkerste ingemaakte slaaie berei soos beetslaai, wortelkoperpennie slaai, ingemaakte kool en pampoen.
Lynette Steen het baie moeite gedoen om “labels” en “hoedjies” vir die bottels waarin ons die groente inmaak, te ontwerp, haar poging laat die bottels
werklik aantreklik lyk. Die vroue word geleer om te kyk wat hulle het reeds in hul huis of beskikbaar om kunstige verpakking te bewerk, bv interessante sade.
Die vroue word tans geleer om “paper mache” uit koerantpapier en kralewerk te doen om botteldeksels verder te versier.
'n Idee sover is om die produkte by die Hazelwood Food Market te verkoop.
Die vroue moet entrepeneurskap geleer word - kosteberekening van hul produk en ideal verpakking sodat dit aantreklik is vir die mark waarop dit gerig is. Die idee
is om elke vrou se unieke produk suksesvol bemark te kry. Verskeie huisvlytvaardighede word aangemoedig. 'n Paar items was vir die eerste keer te koop op Kerk Sonder Mure se Kersmark
op 3 November 2012. Enige iemand wat hiermee wil verder betrokke raak, kontak Lynette Steen.
Versoek: Enige verpakkings materiaal bv bottels, sakkies is welkom. Nog 'n voorstel was die kook van tradisionele boerseep.
Doxa Deo kerk Brooklyn -
Winterwarm uitreik op 2 Junie 2012 (video op Youtube)
Sowat 60 mense van Doxa Deo Brooklyn kerk het uitgereik na Sonheuwel op Saterdag 2 Junie 2012. By die meeste huisies is gesprekke aangeknoop met die
inwoners. Daar is na hulle omstandighede en verhale geluister met simpatieke harte, en daar is gebede en bemoediging gedoen.
Daar is bepaal of daar nood is itv komberse en sokkies vir die koue winter wat voorlê, en na behoefte uitgedeel.
Hulle het ook gelstofies aan elke huishouding belowe, vir die kere in die aande wanneer die krag uitskakel as gevolg van oorlading op die kragsisteem.
Sokkerballe is aan die kinders uitgedeel, en daar is 'n heerlike ruk sokker gespeel met die kinders op die grasperk.
Terselfdertyd is Hartaksie se Kratte uitgedeel, wat op die ou end 'n heugelikheid op hierdie Saterdagoggend gebring het.
Die jaar 2011
Tydens 2011 is die badkamergeriewe opgegradeer.
Vullisverwydering gebeur nou op 'n gereelde basis. Netheid van die terrein
word gedoen deur gemeenskapwerk deur die inwoners, met behulp van 'n merietestelsel kwalifiseer hulle vir maandelikse "krat".
Almal hoop dat die netheid van die terrein oor tyd verder sal verbeter.
Neem gerus kennis dat HeavenYawdah ‘n waarde toevoeging tot die terreinonderhoud onderskryf en daarom die inwoners versoek het om in
groepe op te deel en skoon of reg te maak of te bou soos benodig. Dit het aanvanklik heelwat teenkanting ontvang omdat baie van die inwoners
daar aankom met ‘n “bakhand”-mentaliteit. Sodra hulle sien dat die weldoeners saam met hulle werk en daar deelneem as mentors en dat hulle deel is van die
besluitnemingsproses, verander die gesindheid en raak hulle betrokke. Ons wil dit baie duidelik maak dat al kry die inwoners op gereelde
basis kos- en klereskenkings, dat mense nie daarheen gelok word deur die vooropstelling dat hulle verniet versorging kry nie.
Hier is reeds ‘n volgehoue werkgroep oor jare heen opgebou wat hier betrokke is; dit is mense met ‘n passie vir mense wat geval het en wat in nood verkeer.
Projekte en pogings tot inkomste verdien
Ses persone is betrokke om Maandae tot Saterdae eetgereipakkies vir hospitale te verpak; vir elke kartondoos gepak, ontvang hulle R100.
Opvoeding en skoolgaan van Sonheuwel se kinders
Bernice Marnewick van Nederduitse Hervormde kerk, Rietvallei is baie betrokke by die kleuterskool. Die dag-tot-dag lesse aanbied word gedoen deur
Chantell Smit van Sonheuwel. Ons stem almal saam dit die beste belegging in Sonheuwel is.
Geen steen moet onaangeroer word dat die beste onderrig moontlik gegee word, dat die onderwysers op alle vlakke ten beste toegerus moet wees.
Hier is die een plek waar regtig 'n verskil gemaak kan word.
Die kinders vorder mooi, hulle doen lekker aktiwiteite, en daar is ook 'n speelarea vir hulle in die park.
Hulle poog ook om die kinders se horisonne te verbreed met opvoedkundige uitstappies;
Sonheuwel beskik oor 'n klein biblioteek ('n houthuisie).
Die kinders in Graad R word gehelp en voorberei vir die laerskool, in noue kontak met Laerskool Uniefees.
Doulos
het moeite gedoen om 'n sillabus op te stel vir sulke gemeenskappe se kleuterskole vir kontinuiteit.
Doulos het ook hierdie ou bus vir die kleuterskool verskaf. Enige skoolbenodigdhede is altyd welkom!
Daar is 'n hele aantal kinders uit Sonheuwel wat laerskool asook hoërskole bywoon.
Meeste inwoners hier beskik nie oor motorvoertuie
nie, dus is vervoer van die kinders na die skole 'n daadwerklike probleem. Enige persoon wat wil betrokke raak om
kinders te help skool by te woon, of te help om 'n kind in 'n kinderhuis digby 'n skool geplaas te kry, sal geweldig waardeer word.
Dit is van kardinale belang dat elke kind hier skoolopvoeding ontvang - om uit die put van armoede en haweloosheid waarin sy ouers verkeer, te kom.
Daar is reeds sommige kinders wat a.g.v. vervoerprobleme nie skool bywoon nie, 'n jammerte.
NG Oosterlig kerk se bydraes tot Sonheuwel
• Skooltassieprojek
|
|
• Kratte projek
Die Kratte projek van NG Oosterlig en skenkings van individue stel ons in staat om maandeliks
elke huishouding met 'n gemerkte krat vol kruideniesware en ander noodsaaklike lewensmiddele te verskaf. Die inwoners doen gemeenskapswerk in
die vorm van terrein opruiming om in aanmerking vir 'n krat te kom.
• Hartaksie van NG Oosterlig lewer hul maandelikse donasie aankope vir verpakking ook aan die Kratteprojek.
Hartaksie ondersteun tans 27 organisasies per maand met groot voorrade kruideniersware en wat ook al verder nodig.
• Gedurende 2011 was die Sondagskool aangebied deur Talitha Myburgh van NG kerk Oosterlig en Karen Dahms (‘n inwoner van Sonheuwel).
NG Oosterlig publikasie: Artikel Netwerk Augustus 2011 Sonheuwel.docx
Sonheuwel Kermis - 2 April 2011
Monica van Hervormde kerk Elarduspark het allerlei kreatiewe dinge met Sonheuwel vroue gedoen.
Oulik! Sonheuwel Kermis 2011 uitnodiging.pdf
Potjiekos en speletjies dag - Saterdag 21 Mei 2011
Paul Hendricks het ernstige gesondheidsprobleme ontwikkel. Die AGS gemeente Lofdal in Gezina, het ‘n uitreik na Sonheuwel gedoen.
Potjiekos is van vroegdag al berei, en boeresport en speletjies met die kinders gespeel. Die Sonheuwel kinders het dit vreeslik geniet, "is daar nie nog speletjies om te speel nie?", is gevra.
'n Geestelike boodskap met handpoppe is aan kinders en volwassenes gebring. So het AGS kerk Lofdal in Gezina werklik begin betrokke raak.
Agt vroue het 'n geestelike kamp tydens 16-18 September 2011 by Muldersdrift bygewoon, hulle meen dit was wonderlik, sal graag wil hê hul mans moet
ook gaan. Ons het verder gepoog om hierdie vroue te help geestelik groei deur opvolg gesprekke en Bybelstydie. Dieselfde naweek is daar ook 'n suksesvolle jeugkamp gehou,
sien volledig op "Jeugkampe" afdeling elders op die webwerf.
AGS Lofdal het 'n “Dames bederf en pamperlang dag” op 8 Oktober 2011 aangebied - die Sonheuwel vrouens kan steeds nie uitgepraat raak nie!
Lofdal mense het die vrouens se voete, hande gemasseer en room gesmeer. Ons het hul hare gesny en mooi gemaak.
Daar is ook gesigte gegrimeer,'n geestelike boodskap gebring, en heerlike koek en tee na die tyd saam geniet. Die vrouens het gevoel soos nuwe mense en hul
mans het gesê hul vrouens lyk baie mooi. Tydens daardie tyd is die mans besig gehou met teiken skiet, ander mannedinge en 'n worsie braai.
Christusfees (Kersfees) - 10 Desember 2011
Lofdal het die mense van Sonheuwel met busse gaan haal as gevolg van reën.
Kersvader is met 'n ware koets, getrek deur spogperde, om 3 nm daar aangebring! Hy het kerspakkies aan die kinders uitgedeel.
Daar was 'n program waar mense gesing het en daarna het Lofdal se aanbiddingsdansers gedans, een dans was op “Kom herwaarts, getroues”.
Pastoor Dawie het 'n mooi kersboodskap gebring. Terwyl die sangers besig was, het die kinders op die springkastele baljaar!
Daarna het hul na die saal beweeg waar 'n driegang koningsmaaltyd vir hul bedien is. Hul het gese dit het gevoel of hul in 'n restaurant is!
Na die ete het die kinders van Sonheuwel spontaan begin Kersliedere sing,
voordat 'n klompie saam met Chantelle "Baie, Baie Dankie" vir die Lofdal mense gesing het, 'n mooi gebaar!
Met die Christusfees van 2010 het die Kinderbediening van NG Oosterlig vir elke inwoner van Sonheuwel 'n geskenk gegee: keurig uitgesoek volgens ouderdom, geslag en met die persoon se naam daarop.
Selfs die kinders wat huistoe gekom het uit kinderhuise is nie vergeet nie. Vooraf is seker gemaak presies wie daar sou wees sodat almal 'n geskenk sou ontvang.
Dit was 'n heerlike Christusfees met 'n heerlike ete, geskenke en die koskratte vir elke huis daarna van die Krattebediening aan die einde van die aand
uitgedeel. Paul Hendricks was ook daar.
Vir 2011: Ons het ‘n slaagsyfer gehad van meer as 70 gesinne wat suksesvol teruggeplaas is in die groter gemeenskap volgens opnames deur
Doulos
en Solidariteit. Ongelukkig word nog steeds te veel uitgegooi weens wanbetaling en ander wandade.
Sonheuwel se Geskiedenis
|
Ds Paul Hendricks en Lynette Steen van HeavenYawdah Groep het beide afsonderlik die roeping na hierdie
gemeenskap gekry. Vandat hulle begin het met werklike omgee, geestelike bearbeiding, pastorale terapie, en opvoeding gedoen het,
het die geweldsmisdade en wanpraktyke begin afneem.
|
|
Lees meer oor Sonheuwel se geskiedenis en situasie teen 2009.
Sonheuwel 'n jaar later (2009).doc
Mense in glashuise gooi nie klip nie.doc
Daar is verskeie projekte wat hierdie gemeenskap wil help ophef. Die publiek word versoek om GEEN BELOFTES aan hulle te maak of geld aan hulle
te gee nie (om hulle uit 'n bedelaars mentaliteit te help kry). Dra eerder by tot bestaande projekte om hierdie gemeenskap op te hef, wat ons groot doel is.
Indien u tot Coram Deo / Oosterlig se Kratte of Skooltassie projek wil bydra,
Coram Deo (NWO) is 'n geregistreerde Artikel 21 Nie-winsgewende organisasie.
‘n Belastingsertifikaat in terme van Artikel 18A sal aan die individu of instansie uitgereik word wat skenkers in staat stel
om hul donasies teen belasting af te trek:
Rekening naam: Coram Deo
ABSA tjekrekening : 4067258321
Bankkode : 632005
Verwysing: Vind gerus uit oor die verskeie projekte, en gebruik dit in u verwysing,
bv. "Sonheuwel Kratte - " + naam/instansie; "Sonheuwel Skooltas- " + naam/instansie
OF sien HeavenYawdah Groep se Donations bladsy op die webwerf.
Kontak Johan Bloem by ☎ 082 834 4576 of epos na: ✉ joebloem55@hotmail.com of Johan.Bloem@heavenyawdah.org.za
OF Lynette Steen by ☎ 082-930-6993 of epos na: ✉Lynette.Steen@heavenyawdah.org.za.
Vrywaring: Toestemming van die inwoners is verkry om foto's te plaas.
Laas opgedateer: Desember 2012
